Fritz Deelman is ’n Afrikaanse James Bond-agtige karakter geskep deur Leon Rousseau in die 1950’s. Die eerste Fritz Deelman-stories is as ’n reeks in Die Jongspan gepubliseer en daar het uiteindelik 8 boeke tussen 1956 en 1963 verskyn.
Fritz is ’n luitenant in die Suid-Afrikaanse afdeling van die Internasionale Veiligheidspolisie. Hy werk onder generaal Pierre Heyns en die liefde van sy lewe is Loeki de Klerk, wie se oom, dokter Toon de Klerk, die hoof van die Geallieerde Mediese Navorsingsentrum in Kaapstad is.
Die karakter van Fritz Deelman is volgens Leon Rousseau, die skrywer van die reeks, gebaseer op die Afrikaanse skrywer Gideon Joubert wat beskou is as Suid-Afrika se eerste “paddaman” (skubaduiker). Ondersese avonture en skubaduik het in drie van die titels ’n belangrike rol gespeel.
In Amerika kom luitenant Fritz Deelman te staan teenoor ’n organisasie wat die hele wêreld probeer uitwis.
Fritz Deelman en sy Franse makker maak ’n ontdekking wat die Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie in rep en roer het…
Drie manne in ’n ruimteskip is op pad na Mars. Die voortbestaan van al die volke op aarde is in hul hande.
Onder dwang soek Fritz Deelman skatte van tienduisend jaar gelede; duisende meter onder die see.
Fritz Deelman bevind hom in die dieptes van die “groen hel” van die Amasone; waar die dood elke oomblik kan tref.
’n Westerling kan slegs met lewensgevaar die geheimsinnige bergland Tibet binnedring. En Fritz Deelman moet daarheen gaan om ’n vooraanstaande Suid-Afrikaanse geleerde te red.
In die Sahara staan die Moho-toring, toegangspoort tot ’n fantastiese skag. Watter verband het die Moho-skag met die verskyning van die gevreesde woestynvegter, die Rooi Sjeik?
In die Stille Oseaan lê die ondersese myn wat die middelpunt vorm van nog ’n avontuur in die opwindende lewe van luitenant Fritz Deelman.